Spontaan

Spontaan Tussen roosgoud en luiperd, tussen stilte en stem,
leef Spontaan™ waar geloof, genade en egtheid asemhaal.

Spontaan™ bied damesoggende, inspirerende boodskappe
en hands-on lipstiffie-werkswinkels
waar kreatiwiteit, identiteit en gemeenskap ontmoet.

SEPTEMBER – DAG 13Wanneer hoop uitblySpreuke 13“Die hoop wat uitgestel word, maak die hart siek; maar ’n begeerte wat ui...
13/09/2026

SEPTEMBER – DAG 13

Wanneer hoop uitbly

Spreuke 13

“Die hoop wat uitgestel word, maak die hart siek; maar ’n begeerte wat uitkom, is ’n boom van die lewe.”
Spreuke 13:12

Gedagte vir die dag

Daar is ’n soort moegheid wat slaap nie regmaak nie.
Dit kom wanneer jy lank wag vir iets wat net nie gebeur nie.
Jy het gedink dit sou teen nou anders wees.
Die deur sou oopgaan.
Die antwoord sou kom.
Die verhouding sou herstel.
Die plan sou werk.
Die gebed sou anders lyk.

Maar tyd het aangegaan.

En Spreuke maak nie daardie pyn klein nie.
Dit sê eerlik: uitgestelde hoop maak die hart siek.

Nie swak nie.
Nie ongelowig nie.
Siek.

Daar is iets aan lank wag wat ’n mens se binnekant kan uitput. Veral wanneer jy nie net vir iets gewag het nie,
maar amper jou hart daaraan vasgemaak het. Ons probeer soms geloof gebruik om teleurstelling toe te maak.

Ons sê: “Ek vertrou maar.”
Terwyl iets binne ons eintlik rou. Maar God vra nie dat jy moet maak asof wagtyd jou nie raak nie.
Hy is nie bang vir jou eerlikheid nie.
Hy weet hoe lank jy al wag.
Hy weet watter gebede jy sagter begin bid het.
Hy weet watter verlange jy nie meer hardop noem nie.

Maar hier lê die dieper gevaar: Wanneer iets lank uitbly, kan die verlange daarna stadig begin besluit of jy nog vrede mag hê.

Dan leef jy nie meer vandag nie.

Jy leef vir: “Wanneer…”
Wanneer ek dit kry.
Wanneer dit verander.
Wanneer hulle terugkom.
Wanneer die deur oopgaan.
Wanneer hierdie seisoen verby is.

En sonder dat jy dit besef, gee jy ’n onvervulde hoop
die reg om jou hele lewe te regeer. Daar is niks verkeerd met diep verlang nie. Maar geen verlange mag Here word nie.

Geen droom.
Geen mens.
Geen uitkoms.
Geen antwoord.

Want as jou hele lewe eers kan begin wanneer daardie een ding gebeur, het daardie een ding dalk te veel mag gekry.

Miskien is die vraag vandag nie net: “Wanneer gaan dit gebeur?” nie.

Miskien is die dieper vraag: “Het dit wat nog nie gebeur het nie, begin bepaal of ek God vandag nog kan vertrou?” Want uitgestelde hoop kan jou hart seermaak. Maar dit hoef nie jou geloof te versmoor nie.

Dit hoef nie jou oë blind te maak vir die genade wat vandag reeds voor jou lê nie. Dit hoef nie jou lewe gyselaar te hou totdat alles lyk soos jy gehoop het nie.

God is steeds God in die wagtyd. Nie net wanneer die antwoord kom nie.
Nie net wanneer die wens vervul word nie.
Nie net wanneer die deur oopgaan nie.
Ook hier.
Ook nou.
Ook terwyl jou hart nog wag.

Gebed
Here, U ken die dinge waarvoor ek lank gewag het en die teleurstellings waaroor ek nie altyd praat nie. Help my om eerlik te wees oor wat seermaak, sonder om my hart aan ’n onvervulde verlange oor te gee. Wys my waar iets wat ek begeer, te veel mag oor my vrede gekry het. Leer my om U vandag te vertrou, nie eers wanneer alles gebeur soos ek gehoop het nie.

In Jesus Naam.
Amen.

✍🏻©️ Spontaan ™️👑

Spontaan WhatsApp Channel:
https://whatsapp.com/channel/0029VbCp8k21t90WlbdZIm2g

12/09/2026
DIE DUURSTE DING WAT JY OOIT SAL GEEDaar is baie dinge wat ’n mens kan terugkry.Geld kan weer verdien word.Iets wat gebr...
12/09/2026

DIE DUURSTE DING WAT JY OOIT SAL GEE

Daar is baie dinge wat ’n mens kan terugkry.
Geld kan weer verdien word.
Iets wat gebreek het, kan soms vervang word.
’n Huis kan weer gebou word.
Besittings kan weer gekoop word.

Maar daar is een ding wat, wanneer jy dit eenmaal gegee het, nooit weer na jou toe terugkom nie.

Tyd.

Nie eers ’n sekonde daarvan nie. Die minuut wat jy so pas geleef het, behoort reeds aan gister.
Jy kan daarna verlang.
Jy kan daaroor spyt wees.
Jy kan wens jy het dit anders gebruik.
Jy kan foto’s daarvan bêre en herinneringe daaroor vertel.

Maar jy kan dit nie terugkoop nie. Geen hoeveelheid geld kan gistermiddag 14:17 weer vir jou oopmaak en sê: Probeer weer.

Tyd is genadeloos in daardie opsig.

Dit beweeg. En dit wag vir niemand nie. Daarom leer ek my kinders van kleins af: Kies wys aan wie jy jou tyd gee. Want daar is ’n verskil tussen iemand wat tyd het vir jou en iemand wat tyd maak vir jou.

Wanneer iemand tyd vir jou maak, gee hulle iets wat hulle nooit weer kan terugneem nie. Hulle gee vir jou ’n stukkie van hulle lewe.

Dink daaroor.

Wanneer iemand ’n uur saam met jou sit, het hulle jou nie bloot sestig minute gegee nie. Hulle het vir jou sestig minute gegee van die beperkte hoeveelheid lewe wat aan hulle toevertrou is. Daar is geen terugbetaling daarop nie. Geen hervulling nie. Geen manier om dit later weer by die kalender te voeg nie.

Tyd is dalk die duurste geldeenheid waarmee ’n mens ooit sal betaal. Want jy betaal daarmee uit jou lewe.
En skielik laat dit my anders kyk na waaraan ek my dae afstaan.

Aan wie gee ek ure wat ek nooit weer sal sien nie?
Wat kry die beste van my?
Wat kry my aandag?
Wat steel minute terwyl ek myself vertel: “Net gou”?
Hoeveel van my lewe het ek al weggegee aan dinge wat uiteindelik niks gewig gedra het nie?

Ons sê maklik: “Ek het nie tyd nie.” Maar dikwels bedoel ons eintlik: “Ek het my tyd reeds aan iets anders gegee.”

Want elke ja is ’n stukkie tyd.
Elke nee beskerm ’n stukkie tyd.
Elke uur voor ’n skerm.
Elke gesprek.
Elke bekommernis.
Elke argument wat ons oor en oor in ons kop voer.
Elke keer wat ons fisies by iemand sit maar geestelik kilometers ver is.

Alles kos tyd.

En daarom bid Moses iets besonders:
“Leer ons om ons dae so te tel dat ons ’n wyse hart mag bekom!”
Psalm 90:12

Hy sê nie net: Here, gee ons meer dae nie.
Hy vra: Leer ons wat om met die dae te doen wat ons reeds het. Maar toe dink ek aan die ander kant van tyd. Want dieselfde mens wat gister nie kan terugkry nie, probeer dikwels môre reeds vandag leef. Ons bekommer ons oor volgende week.
Volgende maand.
Die rekening wat nog moet kom.
Die gesprek wat nog moet gebeur.
Die uitslag wat ons nog nie ontvang het nie.
Die kind se toekoms.
Die besigheid.
Die werk.
Die “wat as?”

En sonder dat ons dit besef, gebruik ons vandag se tyd om môre se vrese te dra. Maar Jesus sê: “Kwel julle dus nie oor môre nie, want môre sal hom oor sy eie dinge kwel.”
Matteus 6:34

Dit beteken nie ons mag nie beplan nie. Wysheid beplan. Rentmeesterskap berei voor. Maar bekommernis probeer beheer wat nog nie aan ons gegee is nie. En daar lê vir my iets ongelooflik mooi: God gee ons vandag.
Nie gister om oor te doen nie.
Nie môre om vooruit te leef nie.

Vandag.
Hierdie asem.
Hierdie gesprek.
Hierdie kans om jammer te sê.
Hierdie kans om iemand vas te hou.
Hierdie kans om jou kind in die oë te kyk wanneer sy met jou praat.
Hierdie kans om die foon neer te sit.
Hierdie kans om te bid.
Hierdie kans om gehoorsaam te wees.
Hierdie kans om vir iemand te sê:

Ek het jou lief.

Ons leef so maklik asof die gewone oomblikke onbeperk is.
Nog ’n ete.
Nog ’n slaaptyd.
Nog ’n koppie koffie saam.
Nog ’n oproep van Mamma en Pappa.
Nog ’n keer wat ’n klein hand joune soek.
Nog ’n aand langs jou man.
Nog ’n geleentheid om te sê wat gesê moet word.

Tot daar eendag nie nog een is nie.
En dalk is dit waarom wysheid nie net vra: Hoeveel tyd het ek? nie. Wysheid vra: Wat verdien die tyd wat ek het?

Want die doel is nie om elke sekonde produktief te maak nie. Rus is nie vermorste tyd nie. Stilword is nie vermorste tyd nie. Om saam met mense wat jy liefhet om ’n tafel te sit en niks indrukwekkends te bereik nie, is nie vermorste tyd nie.

Jesus self het stil geraak.
Hy het onttrek.
Hy het geëet.
Hy het saam met mense gesit.

Die vraag is nie of elke minuut iets moet produseer nie. Die vraag is of ons ons dae doelbewus leef. Daar is ’n tyd om te werk.
’n Tyd om te rus.
’n Tyd om te bou.
’n Tyd om los te laat.
’n Tyd om stil te wees.
’n Tyd om te praat.

Prediker 3 herinner ons dat daar vir alles ’n bepaalde tyd is. Maar alles hoef nie jou tyd te kry nie. Nie elke uitnodiging verdien ’n ja nie. Nie elke argument verdien ’n antwoord nie. Nie elke mens behoort onbeperkte toegang tot jou lewe te hê nie. Nie elke dringendheid is belangrik nie. Nie alles wat jou aandag vra, verdien jou aandag nie.

Want wanneer jy jou tyd gee, gee jy iets van jouself wat jy nooit weer kan gaan haal nie. En tog hoef dit ons nie angstig oor tyd te maak nie.

Dit moet ons wakker maak. Dankbaar. Teenwoordig.
Wys. Want my lewe behoort uiteindelik nie aan die horlosie nie.

Dit behoort aan God.

En daarom wil ek nie vandag mors deur gister te probeer terugkry nie. Ek wil dit ook nie verloor deur môre vooruit te vrees nie. Ek wil die dag wat God nou in my hand gesit het, getrou leef.

Met die mense wat Hy aan my toevertrou het.
Met die werk wat Hy voor my gesit het.
Met genoeg wysheid om nee te sê.
Met genoeg liefde om tyd te maak.
Met genoeg geloof om môre by Hom te los.

Want eendag sal ons besef: Ons grootste rykdom was nooit hoeveel ons gehad het nie. Dit was hoeveel oomblikke ons ontvang het om lief te hê, te dien, te lag, te luister, te gehoorsaam en eenvoudig teenwoordig te wees.

En elkeen daarvan was net een keer ons s’n.

Jy kan gister nie terugkoop nie.
Jy hoef môre nog nie te dra nie.
Maar vandag is in jou hand.
Kies wys wat jy daarmee doen.

Gebed
Here, leer my om my dae te tel sodat ek ’n wyse hart kan bekom. Vergewe my vir die tyd wat ek so maklik weggee aan dinge wat geen ewigheidsgewig dra nie. Leer my om teenwoordig te wees waar my voete vandag staan. Om tyd te maak vir die mense wat U aan my toevertrou het. Om te weet wanneer om ja te sê en wanneer ’n heilige nee nodig is. Bewaar my daarvan om vandag te verloor deur voortdurend terug te kyk na gister. En bewaar my daarvan om vandag se genade op te gebruik deur môre se vrese vooruit te probeer dra. Ek gee my gisters vir U. Ek vertrou my môres aan U. En ek ontvang vandag as ’n gawe uit U hand. Laat ek dit goed leef. Getrou. Wys. Teenwoordig. Want my tyd is nie net myne nie. My lewe behoort aan U.

In Jesus Naam.
Amen.

✍🏻 © Spontaan™

SEPTEMBER – DAG 12Reg in jou eie oëSpreuke 12“Die weg van ’n dwaas is reg in sy eie oë, maar die wyse luister na raad.”S...
12/09/2026

SEPTEMBER – DAG 12

Reg in jou eie oë

Spreuke 12
“Die weg van ’n dwaas is reg in sy eie oë, maar die wyse luister na raad.”
Spreuke 12:15

Gedagte vir die dag
Een van die gevaarlikste plekke
waar ’n mens kan wees, is verkeerd en oortuig.
Nie onseker nie.
Nie soekend nie.
Nie bereid om te vra nie.

Oortuig.

Spreuke sê die dwaas se weg is reg in sy eie oë.
Nie noodwendig reg voor God nie.
Reg in sy eie oë.

En dis waar dwaasheid dikwels begin.
Nie by ’n gebrek aan opinies nie, maar by ’n hart wat sy eie siening as finale waarheid begin behandel.

Jy kan ’n besluit verdedig omdat dit jou pas.
Jy kan ’n reaksie regverdig omdat jy seergemaak is.
Jy kan ’n pad aanhou stap omdat dit te vernederend voel om om te draai.
Jy kan selfs mooi redes hê vir iets wat God nooit goedgekeur het nie.
Want die menslike hart kan baie goed argumente bou
rondom dit wat hy nie wil neerlê nie.

En dis die gevaar: Wanneer jy lank genoeg na jou eie kant luister, begin jou eie oë vir jou soos waarheid voel.

Maar om seker te wees, maak jou nie noodwendig reg nie.
Om vrede te voel, beteken nie noodwendig God het gesê ja nie.
Om ’n rede te hê, beteken nie noodwendig jy is wys nie.

Wysheid begin wanneer jy eerlik genoeg word om jou eie oë te wantrou en God se waarheid hoër te ag.

Wanneer jy kan bid: “Here, wys my nie net waar ander verkeerd is nie. Wys my waar ek myself glo.”

Dít is nie swakheid nie. Dis wysheid.

Want ’n dwaas vra net raad totdat iemand hom teëgaan. Maar ’n wyse mens laat waarheid toe
om die pad oop te sny, selfs wanneer dit sy eie sekerheid verneder.

Vandag is die vraag nie net: “Is ek reg?” nie.
Die dieper vraag is: “Het ek God regtig gevra, of het ek net my eie oortuiging heilig probeer laat klink?”

Gebed
Here, beskerm my teen die blindheid van my eie sekerheid. Wys my waar ek my eie oë, my eie redes en my eie oortuiging meer vertrou as U waarheid. Gee my die nederigheid om nie net raad te hoor nie, maar om voor U te buig wanneer U my wys ek is verkeerd. Vorm in my ’n hart wat nie sy eie pad verdedig nie, maar U wysheid soek.

In Jesus Naam.
Amen.

✍🏻©️ Spontaan ™️👑

Spontaan WhatsApp Channel:
https://whatsapp.com/channel/0029VbCp8k21t90WlbdZIm2g

SEPTEMBER – DAG 11Wanneer jou veiligheid op iets broos staanSpreuke 11“Wie op sy rykdom vertrou, dié sal val; maar die r...
11/09/2026

SEPTEMBER – DAG 11

Wanneer jou veiligheid op iets broos staan

Spreuke 11
“Wie op sy rykdom vertrou, dié sal val; maar die regverdiges sal soos blare uitspruit.”
Spreuke 11:28

Gedagte vir die dag
Daar is ’n verskil tussen iets hê en daarop vertrou.
Spreuke veroordeel nie hier iemand omdat hy besittings het nie.

Dit ontbloot iets baie dieper: Waar lê jou veiligheid?
Want ’n mens kan God met jou mond vertrou, maar jou vrede uit jou bankbalans kry.

Jy kan sê: “God voorsien,” maar paniekerig raak die oomblik die syfers verander. Jy kan bid vir daaglikse brood, maar diep binne glo jy is veilig omdat jy genoeg opgegaar het.

En dit gaan nie net oor geld nie.

Ons bou almal maklik iets waaragter ons veiliger voel.
’n Pos.
’n Van.
’n Besigheid.
’n Plan.
’n Mens.
’n Reputasie.
’n Sekere leefstyl.

Niks daarvan hoef verkeerd te wees nie.

Die gevaar begin wanneer iets wat God vir jou gegee het, die plek begin inneem wat net God behoort te hê. Want alles wat jy kan verloor, is te broos om jou veiligheid te dra. Dit wat jou vrede kan steel wanneer dit geskud word,
wys dikwels waarop jy werklik begin vertrou het.

Miskien is die vraag vandag nie: “Wat besit ek?” nie.
Miskien is dit: “Wat moet verander voordat ek ophou veilig voel?” Daar lê dikwels die afgod wat nie soos ’n afgod lyk nie.

Die ding wat goed begin het,maar te veel mag gekry het. Die gawe wat stadig die plek van die Gewer begin inneem het.

Spreuke sê die regverdige is anders. Nie omdat niks ooit van hom weggeneem kan word nie. Maar omdat sy wortels nie lê in dit wat weggeneem kan word nie. Hy staan nie omdat alles rondom hom stabiel is nie. Hy staan omdat God sy bron is. En dalk is dit een van die eerlikste ondersoeke wat ’n mens met jou eie hart kan doen: As God al die dinge wegneem wat my veilig laat voel, sal ek steeds glo dat Hy genoeg is?

Gebed

Here, wys my eerlik waar ek my veiligheid gebou het op dinge wat kan verander, verdwyn of van my weggeneem kan word. Bewaar my daarvan om U gawes te vertrou in plaas van die Een wat dit gee. Wys my waar iets broos te veel mag oor my vrede gekry het. Laat my lewe diep gewortel wees in U, sodat my vertroue nie saam met my omstandighede verander nie.

In Jesus Naam.
Amen.

✍🏻©️ Spontaan ™️👑

Spontaan WhatsApp Channel:
https://whatsapp.com/channel/0029VbCp8k21t90WlbdZIm2g

SEPTEMBER – DAG 10Wanneer jou woorde wys wie jy vertrouSpreuke 10“By veelheid van woorde ontbreek die oortreding nie; ma...
10/09/2026

SEPTEMBER – DAG 10

Wanneer jou woorde wys wie jy vertrou

Spreuke 10
“By veelheid van woorde ontbreek die oortreding nie; maar hy wat sy lippe inhou, handel verstandig.”
Spreuke 10:19

Gedagte vir die dag
Daar is ’n plek waar woorde wysheid dra. En daar is ’n plek waar woorde begin verklap wat nog nie in jou hart tot rus gekom het nie.

Ons praat soms nie omdat God ons stuur nie.
Ons praat omdat ons bang is ons word verkeerd verstaan.
Ons praat omdat ons ons beeld wil beskerm.
Ons praat omdat stilte ons laat voel asof ons beheer verloor.
Ons praat omdat ons wil seker maak die storie klink reg.
Ons praat omdat ons laaste woord vir ons soos veiligheid voel.

Maar Spreuke waarsku: waar daar baie woorde is, raak oortreding maklik naby.

Nie omdat elke woord verkeerd is nie. Maar omdat baie woorde dikwels begin dra wat net God moes dra.

Jou verdediging.
Jou behoefte om reg te lyk.
Jou vrees vir mense se opinies.
Jou begeerte om verstaan te word.
Jou drang om alles dadelik reg te maak.

En voor jy besef, praat jy nie meer uit wysheid nie.
Jy praat uit onrus. Daar is ’n soort stilte wat nie koud is nie. Nie straf nie. Nie onttrekking nie.

Maar oorgawe.

’n Stilte wat sê: “Here, ek hoef nie alles nou te verduidelik nie.”
“Ek hoef nie my naam in elke kamer te verdedig nie.”
“Ek hoef nie elke gedagte ’n stem te gee nie.”
“Ek vertrou dat U die waarheid ken.”

Dit vat wysheid om te weet wanneer om te praat.
Maar dit vat nederigheid om te weet wanneer jou woorde net jou vlees probeer dien.

Soms is die geestelikste ding wat jy vandag kan doen,
nie om die regte sin te sê nie. Maar om jou mond onder God te hou terwyl jou hart Hom leer vertrou.

Want ’n wyse mens weet:
Nie elke waarheid hoef deur my gesê te word nie.
Nie elke oomblik vra my antwoord nie.
Nie elke stilte beteken ek verloor nie.

Soms wys my stilte dat ek uiteindelik glo God kan sorg vir wat ek nie hoef te beheer nie.

Gebed
Here, wys my waar my woorde uit onrus kom en nie uit wysheid nie. Wys my waar ek praat om myself te beskerm, my beeld te beheer of my eie hart te verdedig. Leer my om U genoeg te vertrou om nie alles te hoef sê nie. Plaas ’n wag voor my mond, maar vorm ook die hart waaruit my woorde kom.

In Jesus Naam.
Amen.

✍🏻©️ Spontaan ™️👑

Spontaan WhatsApp Channel
🔗: https://whatsapp.com/channel/0029VbCp8k21t90WlbdZIm2g

SEPTEMBER – DAG 9Wanneer regstelling jou hart toetsSpreuke 9“Bestraf ’n wyse, dan sal hy jou liefhê.”Spreuke 9:8Gedagte ...
09/09/2026

SEPTEMBER – DAG 9

Wanneer regstelling jou hart toets

Spreuke 9

“Bestraf ’n wyse, dan sal hy jou liefhê.”
Spreuke 9:8

Gedagte vir die dag
Een van die duidelikste tekens van wysheid is nie hoeveel jy weet nie.
Dis hoe jy reageerwanneer jy reggehelp word.

Trots hoor regstelling as ’n aanval.
Wysheid hoor dit as genade.
Nie omdat regstelling altyd maklik voel nie.

Dit voel nie.

Dit sny.
Dit ontbloot.
Dit raak aan plekke in jou hart
wat jy dalk liewer wou beskerm.

Maar ’n wyse mens verstaan: Nie elke mens wat my reghelp, is teen my nie.

Soms stuur God waarheid deur iemand wat genoeg omgee om nie net saam met my verkeerd te wees nie.

Die vraag is nie net: “Hoe het hulle dit gesê?” nie.
Die dieper vraag is: “Is daar waarheid in wat ek hoor?”

Want trots soek vinnig ’n rede om die boodskapper te verwerp.

Hulle toon.
Hulle tydsberekening.
Hulle manier.
Hulle eie tekortkominge.

En soms is daardie dinge geldig. Maar wysheid is nederig genoeg om steeds te vra: “Here, wat wil U vir my wys?”

As niemand ooit iets vir jou mag sê nie, gaan jy nie groei verby die plek waar jou ego jou beskerm nie.
’n Leerbare hart is nie ’n swak hart nie.
Dis ’n hart wat waarheid meer liefhet as om altyd reg te lyk.

Spreuke sê: Bestraf ’n wyse, en hy sal jou liefhê.
Want wysheid weet: Regstelling is nie altyd verwerping nie.
Soms is dit die pad waardeur God jou dieper vorm.

Gebed

Here, bewaar my teen trots wat regstelling as aanval hoor. Gee my ’n sagte en leerbare hart wat waarheid kan ontvang, selfs wanneer dit ongemaklik is. Help my om nie net my beeld te beskerm nie, maar opreg deur U gevorm te word. Maak my wys genoeg om te luister, nederig genoeg om te verander, en dankbaar genoeg vir mense wat my nader aan U waarheid help leef.

In Jesus Naam.
Amen.

✍🏻©️ Spontaan ™️👑

Spontaan WhatsApp Channel:
https://whatsapp.com/channel/0029VbCp8k21t90WlbdZIm2g

‼️ ONS JONG MAN IS TUIS! ‼️Prys die Here! Ons jong man is veilig terug by die huis. 🙌🏻My hart loop oor van dankbaarheid ...
08/09/2026

‼️ ONS JONG MAN IS TUIS! ‼️

Prys die Here! Ons jong man is veilig terug by die huis. 🙌🏻

My hart loop oor van dankbaarheid vir elke persoon wat gebid, ingetree, gedeel, ingeloer en saam met ons gestaan het. Julle sal nooit ten volle besef hoeveel elke gebed beteken het nie.

Hy het ’n paar keer vertel hoe die vrede van God skielik oor hom gekom het. Toe vrees weer probeer oorneem en hulle hom by Teater 7 instoot, het daar net ’n diep wete in sy hart gekom:

God is met my.

En Hy was.

Daar is nou sigbare letsels van die operasie. Littekens wat ’n deel van sy storie sal word. Dit laat my dink aan hoe ons soms ons verhale sigbaar op ons liggame dra.

Ons probeer littekens dikwels wegsteek omdat dit wys dat ons seergekry het. Maar ’n litteken vertel nie net van die wond nie—dit vertel ook dat die wond toegemaak het. Dat jy deur die pyn gekom het. Dat jy nog hier is.

Dalk moet ons nie altyd ons littekens wegsteek nie. Dalk moet ons dit omarm as sigbare herinneringe aan God se genade.

Elke keer wanneer hy daardie letsels sien, mag hy onthou:

Ek was bang, maar God was daar.
Ek het nie geweet wat voorlê nie, maar God het geweet.
Ek het deur Teater 7 gegaan, maar ek het nie alleen gegaan nie.
God het my vasgehou.

“Wanneer jy deur die waters gaan, is Ek by jou…”
— Jesaja 43:2

Ons dank die Here vir Sy beskerming, Sy trou en Sy vrede wat hom gedra het toe sy eie krag min was.

Die herstelpad lê nog voor, daarom hou ons aan bid. Maar vandag vier ons hierdie groot genade:

Ons jong man is tuis.
God was daar.
En God is steeds daar.

Prys die Here! 🙌🏻

🚨 DRINGENDE GEBEDSVERSOEK 🚨

’n Jong man van net 20 jaar oud het onverklaarbare bloeding op die brein gekry. Hy is tans in ICU, waar die dokters probeer vasstel waar die bloeding vandaan kom. Hy verkeer in geweldige pyn.

Ek vra elkeen wat kan om asseblief een uur af te staan en hom in daardie uur by die Here se voete neer te lê.

Net een uur vir hierdie kosbare jong lewe.

Ons dien ’n God van wonderwerke!

Geen wapen wat teen hom gevorm word, sal krag dra nie.

God is nog altyd goed. 🙏🏻

SEPTEMBER – DAG 8Wanneer wysheid reeds geroep hetSpreuke 8“Ek het lief die wat my liefhet, en die wat my soek, sal my vi...
08/09/2026

SEPTEMBER – DAG 8

Wanneer wysheid reeds geroep het

Spreuke 8

“Ek het lief die wat my liefhet, en die wat my soek, sal my vind.”
Spreuke 8:17

Gedagte vir die dag
Ons sê soms: “Ek weet nie wat om te doen nie.”
Maar dieper in ons hart weet ons reeds wat wysheid gesê het.

Spreuke 8 wys wysheid nie as iets wat weggesteek is nie.

Sy roep.

In die oopte.
By die paaie.
By die ingange.
Waar mense besluite neem.

Wysheid was nie altyd stil nie.
Ons wou net nie altyd hoor wat dit sê nie.
Want wysheid sê nie altyd wat jou gevoel wil hoor nie.

Wysheid sê soms:
Moenie daardie pad vat nie.
Moenie daardie verhouding voed nie.
Moenie daardie besluit jaag nie.
Moenie jou hart daar oopmaak nie.
Moenie vrede verruil vir haastigheid nie.

En dan noem ons God stil, terwyl Hy ons eintlik reeds gewaarsku het.
Dis moontlik om leiding te vra, maar weerstand te hê teen die antwoord.
Moontlik om te bid vir wysheid, maar steeds te soek na iemand wat jou eie begeerte sal bevestig.
Moontlik om te sê: “Here, praat met my,” terwyl jy reeds weet wat Hy deur Sy Woord gesê het.

Wysheid word gevind deur mense wat haar liefhet.
Nie net gebruik wanneer hulle in die moeilikheid is nie.
Nie net soek wanneer hulle raad nodig het nie.

Maar liefkry.
Waardeer.
Eerbiedig.
Gehoorsaam.

Want ware wysheid is nie net om die regte antwoord te kry nie. Dit is om ’n hart te hê wat bereid is om voor God se antwoord te buig.

Vra vandag: Het God dalk reeds gepraat oor iets waaroor ek nog steeds “leiding” vra?

Gebed

Here, vergewe my waar ek vir wysheid gevra het, maar weerstand gehad het teen wat U reeds gewys het. Gee my ’n hart wat U wysheid liefhet, nie net wanneer dit my pas nie, maar ook wanneer dit my korrigeer. Leer my om U stem te herken, U waarheid te eer en te gehoorsaam wat U reeds duidelik gemaak het.

In Jesus Naam.
Amen.

✍🏻©️ Spontaan ™️👑

Spontaan WhatsApp Channel:
https://whatsapp.com/channel/0029VbCp8k21t90WlbdZIm2g

SEPTEMBER – DAG 7Moenie naby die deur loop nieSpreuke 7“Bewaar my gebooie en lewe, en my onderwysing soos die appel van ...
07/09/2026

SEPTEMBER – DAG 7

Moenie naby die deur loop nie

Spreuke 7
“Bewaar my gebooie en lewe, en my onderwysing soos die appel van jou oog.”
Spreuke 7:2

Gedagte vir die dag

Spreuke 7 vertel nie net van ’n groot val nie.
Dit wys die pad daarnatoe.
Die jong man het nie skielik geval nie.
Hy het begin loop waar wysheid hom sou waarsku
om nie te loop nie.

Hy was naby die hoek.
Naby die huis.
Naby die stem wat hom sou wegtrek.

En dis waar baie mense hulle misgis.
Hulle dink hulle sal sterk genoeg wees wanneer versoeking praat.

Maar wysheid vra nie eers: “Kan ek dit weerstaan?” nie.
Wysheid vra:
“Hoekom is ek so naby daaraan?”
Hoekom hou ek daardie deur oop?
Hoekom voer ek daardie gesprek?
Hoekom kyk ek nog?

Hoekom gaan ek terug na die plek waar my hart elke keer swakker word?

God se gebooie is nie daar om jou lewe klein te maak nie.
Hulle is daar om jou lewe te beskerm.

Spreuke sê: Bewaar my gebooie en leef. Nie omdat God jou vreugde wil steel nie. Maar omdat sonde altyd meer neem as wat dit belowe.
Dit lok sag.
Dit praat mooi.
Dit voel onskuldig aan die begin.

Maar die pad loop nie waar dit voorgee om te loop nie.
Daarom is wysheid nie net om “nee” te sê wanneer sonde reeds voor jou staan nie.

Wysheid is om vroeër te stop. Om nie naby die deur te gaan staan waar jy weet jou hart kan begin onderhandel nie. Om God se waarheid so kosbaar te ag dat jy dit bewaak soos iets wat lewe dra. Want baie val begin nie met ’n groot besluit nie. Dit begin met ’n pad wat jy nooit moes begin stap het nie.

Vra vandag: Waar stap ek te naby aan iets waarvan God my reeds gewaarsku het?

Gebed

Here, gee my die wysheid om nie net sonde te vermy wanneer dit voor my staan nie, maar om weg te bly van die paaie wat my daarheen lei. Wys my waar ek te naby aan verkeerde deure loop en my hart begin onderhandel. Leer my om U gebooie te bewaar, nie as beperking nie, maar as lewe.

In Jesus Naam.
Amen.

✍🏻©️ Spontaan ™️👑

Spontaan WhatsApp Channel:
https://whatsapp.com/channel/0029VbCp8k21t90WlbdZIm2g

Address

Johannesburg

Alerts

Be the first to know and let us send you an email when Spontaan posts news and promotions. Your email address will not be used for any other purpose, and you can unsubscribe at any time.

Contact The Business

Send a message to Spontaan:

Shortcuts

Featured

Share