19/02/2021
Toe ek 'n kind was !!!
Toe ek 'n klein kind was, het dit vreeslik lekker gelyk om 'n grootmens te wees;
Want grootmense het tjekboeke en motorliksense en hulle mag nagmaalwyn drink en doen net wat hulle wil. Grootmense eet die soet waatlemoen krone, en ons kinders moet die waterige skywe eet. Hulle mag kies watter stukkie hoender hulle wil hê. En dan mag ons nie ons monde opblaas oor die benerige vlerkie waaraan daar partykeer nog haartjies vassit nie.
Kinders moet altyd maak soos grootmense sê.
Al is jy nie vaak nie, moet jy gaan slaap as jou ma so sê.
Nooit as te nimmer mag jy waag om in grootmens geselskap rond te sit nie, want dan tel jy tande.
En niks kan jou naarder maak as kasterolie nie. Jy moet dit drink, want jou ma sê jy gaan wurms kry van speel in die sand om modderkoekies te bak en paaie te bou. Want die werfkatte grou hulle gaatjies in die sand.
Uiteindelik het dit toe so gekom dat ek 'n grootmens met 'n man en twee kinders geword het. Met hoëhakskoene, lipstiek, gedoende hare, bestuurslisensie en tjekboek. Eers toe het ek gesien dis nie altyd lekker om 'n grootmens te wees nie. Partykeer is dit baie moeilik. Jy is die een wat moet sorg vir kos, petrol, skoolgeld, kampgeld, klere, medisyne, vakansie .
Toe jy 'n kind was, het jy geglo die kerk gee Gesangeboekies en Bybels en Sondagskool boeke weg. En tannie sny jou hare verniet uit liefde. Musiekboeke en netbal klere val seker uit die lug.
Vader Krismis is 'n miljoenêr en die tandmuis kan wrintiewaar 'n R5 in jou skoen sit.
Maar nou sien jy alles kos geld, en voor jy 'n tjek kan uitskryf, moet jy eers die geld in die bank sit. Voor jy hoëhakskoene en lekkerruikgoed en mooimaakgoed koop, sorg jy dat jou kinders alles het wat hulle nodig het.Van rakette tot handelsmerk klere, 'n skootrekenaar, selfoon.
En nog en nog.
Sonder dat jy dit hardop sê, staan jy in slaafskap by jou kinders.
'n Vrywillige slaaf, gebore uit liefde en instink. Soggens is jy eerste uit die bed en in die kombuis om 'n skoolhemp te stryk en skool broodjies te smeer. Saans as almal lê, maak jy kombuis aan die kant. Jy vat nooit die grootste peer in die vrugtebord nie, en as daar net twee frikkadelle in die bak is, sê jy nee dankie, want jou maag is vol.
As jou kinders hartseer is, troos jy hulle.
As jy hartseer is, gaan huil jy in die nag by die visdammetjie.
So werk dit nog al die eeue.En as die wêreld nie intussen vergaan nie, sal dit oor vele eeue steeds so werk.
As ek my oë toemaak en terugdink, sien ek eindelose onbaatsugtige ouer-offers. En ek wens ek kon vir vandag se kinders 'n grootmensbril opsit sodat hulle die offers van hulle ouers kan raaksien.
En betyds kan dankie sê, want dalk kom eendag nooit
Naomi