08/05/2025
Amber-Tandekrale. Werk dit regtig?
Amber-tandekrale, veral dié van Baltiese amber, is gewild onder ouers as 'n natuurlike middel teen baba se tand-sny-pyn. Die teorie is dat liggaamsh*tte die amber verhit, wat dan barnsteensuur vrylaat wat deur die vel opgeneem word en pyn verlig. Maar Is Daar Bewyse dat Amber Werk?
Hoewel amber ware barnsteensuur bevat, is daar geen bewyse dat hierdie suur deur die vel opgeneem word of dat dit anti-inflammatoriese eienskappe het nie. Selfs as barnsteensuur vrygestel sou word, is die hoeveelheid te min om enige terapeutiese effek te hê.
Egte Baltiese amber is skaars en duur. As een in ñ plaaslike winkel slegs R200 kos, is dit waarskynlik nie eg nie.
Bo en behalwe die feit dat dit nie werk nie hou die gebruik van amber-tandekrale verskeie risiko's in:
❗️Wurging en verstikking: As die krale breek, kan klein krale ingesluk word of dit kan om baba se nek draai en sy kan wurg.
❗️Infeksies: 88.9% van amber krale het bakteriële kolonisasie, selfs met gereelde skoonmaak.
Daar is geen wetenskaplike bewyse dat amber tandekrale effektief is vir tand-sny-pyn nie. Inteendeel, hou dit ernstige gesondheidsrisiko's in. As ouers is dit belangrik om ingeligte besluite te neem en veilige alternatiewe vir ons kinders te kies.