22/03/2026
Courtney en Sharon Naude , dankie dat julle Triple G gekies het om hierdie héérlike ondervinding mee te maak!
Die Storie!
Vroeg in 2025 het Sharon my gekontak met 'n spesiale versoek.
Dit was Courtney se droom om haar moeder se trourok uit die laat 90's, te dra vir hulle troue in die Ooskerk. Sou ek bereid wees om Sharon se oorspronklike satyntrourok te verander sodat dit Courtney perfek pas?
Saam met 'n splinternuwe hoepelonderrok het die "magic " gebeur. Die sluier was ook Sharon se oorspronklike vloerlengte ene gekombineerd met "something borrowed"... Surienne van Voorst se 20 jaar ou láng netsluier met Swarovski steentjies op onderkant.
Vir die onthaal het ons vir Courtney 'n pragtige enkellengte partytjierok gemaak met blomrose op die romp.
Sharon self was 'n préntjie in 'n helder, amper lemmetjiegroen Armani-satynrok met handgemaakte blomdetail op een skouer.
Wat 'n plesier was dit om saam met 'n lieflike ma en dogter te werk!